Kan die ‘kankerdieet’ help?

Die ketogeniese kankerdieet (baie lae koolhidrate en hoë vet) en die moontlike voor- en nadele daarvan, het omtrent ’n storm in die media ontketen. Onkoloë sê elke tweede pasiënt vra uit oor die waarde van die dieet, maar helaas, in die praktyk is dit nie die towerspreuk waarop pasiënte gehoop het nie.

Wat is die ketogeniese kankerdieet?

Die dieet bevat nie genoeg glukose in die vorm van suiker en koolhidrate om voldoende energie daaruit te put nie. Dan word vet (en soms spierweefsel) vir energie afgebreek. Wanneer vette afgebreek word vir energie, produseer die liggaam ketone wat dan as bron vir energie gebruik word. Dit moenie verwar word met die veel ernstiger toestand, keto-asidose wat by diabete (veral tipe 1) voorkom nie. Weens die afwesigheid van insulien kan glukose dan glad nie vir energie afgebreek word nie. Hier word soveel ketone afgebreek vir energie dat dit die suurheidsgraad van die bloed verander en dodelik kan wees. ’n Gesonde mens gaan steeds ’n bietjie glukose op ’n ketogeniese dieet inkry. ’n Dieet wat minder as 50-60 gram effektiewe koolhidraat bevat, word gewoonlik ’n ketogeniese dieet genoem.

Die Borschirurg en akademikus

Prof. Justus Apffelstaedt is professor in chirurgie aan die Universiteit van Stellenbosch en hoof van die Tygerberg Borskliniek. Hy sê uit ’n onlangse wetenskaplike oorsig het dit geblyk dat alle sogenaamde “kankerdiëte” ten beste geen waarde het nie en waarskynlik nadelig is. “Ek sien pasiënte wat weens hierdie diëte verswak en dan vinniger agteruitgaan. Die eensydigheid van die meeste ‘kankerdiëte’ weerhou noodsaaklike voedingstowwe van normale selle wat mense weerloos maak teen die toksiese uitwerking van behandeling en om weerstand teen die kankergewas te bied. Die menslike liggaam is ’n baie fyn gebalanseerde en komplekse masjien wat normale glukosevlakke oor ’n wye veld van hoë en lae inname sal handhaaf. Om enige effek van ’n dieet in hierdie omstandighede te verwag is kortsigtig.”

Read the full article HERE.

SOURCE: Rooi Rose