“Die mees algemene gene waar ‘n defek tot borskanker kan lei, is die BRCA 1- en 2-geen,” vertel prof. Apffelstaedt. “Die risiko vir borskanker wat Jolie in die gesig gestaar het, is weens ‘n mutasie in die BRCA 1-geen. Kankers wat aan hierdie geen gekoppel word, is gewoonlik ‘n baie aggressiewe soort en behandeling is nie baie suksesvol nie.”

Hy sê, selfs al sou die pasiënt borskanker oorwin, is sy steeds vatbaar vir kanker van die eierstokke.

“Toetse vir mutasies in die BRCA 1- en 2-geen is beskikbaar by gespesialiseerde klinieke in SA. Hulle gee ook berading voor die tyd, en ek kan nie benadruk hoe belangrik dit is nie.”

Hy benadruk dat toetse nie gedoen moet word sonder berading nie. Sodra die genetiese defek geïdentifiseer word, sal dié sentrum se kenners kan raadgee oor hoe om dit te hanteer en bestuur. Dié opsies sluit in dat jy gereeld gaan vir toetse of om chirurgie te ondergaan, soos in Jolie se geval. Jy kan ‘n mastektomie kry, jou eierstokke laat verwyder, of albei.

Volgens prof. Apffelstaedt kan hierdie defekte in die BRCA-gene deur albei die ouers aan kinders (seuns of meisies) oorgedra word. By vroue veroorsaak dit meestal bors- en eierstok-kanker, terwyl mans enigiets van prostaat-, kolon-, bloed-, pankreas-, bors- of enige soort velkanker kan ontwikkel.

Link to article: http://www.sarie.com/bekendes/het-jy-gehoor-bekendes/bekende-dokter-oor-angelina-se-besluit/