Wanneer borskanker by ’n pasiënt gediagnoseer word, is bewustheid en kennis van die kragtigste wapens om die siekte te help beveg.  Hier is inligting rondom spesifieke soorte gewasse en riglyne vir ’n goeie opvolgroetine

Deur: Prof Justus Apffelstaedt

Onlangse kankernavorsing dui aan dat daar vier hooftipe tumors is, wat elkeen ‘n spesifieke kliniese koers en terugkeerpatroon het. Daarom is dit nie meer aanvaarbaar om dieselfde benadering ten opsigte van die opvolgbehandeling vir alle soorte borskanker te volg nie. Pasgemaakte opvolgprosedures vir die spesifieke kankertipes is noodsaaklik om kanker wat terugkeer vroeg op te spoor.

Kanker is ‘n siekte wat lewensgevaarlik kan wees en kankerbehandeling kan ernstige newe-effekte hê wat jou lewensgehalte kan verlaag. Die goeie nuus is egter dat die regte behandeling dit kan verbeter.

Ter wille van die vroeë opsporing van kanker wat terugkeer en die behoud van jou lewensgehalte, is dit belangrik om ‘n goeie opvolgroetine te volg.  Hier is inligting rondom spesifieke soorte gewasse en belangrike riglyne om te verseker dat enigiemand met ‘n borskankerdiagnose verstaan wat ‘n goeie opvolgroetine behels:

HER2-tipe

What beteken ‘n HER2-tipe- klassifikasie? Ongeveer een uit elke vyf borskankers is Human Epidermal growth factor Receptor 2 (HER2)-positief wat beteken dat dit uitermatige hoë herseptienreseptorvlakke of kopieë van die HER2-gene het. Die HER2-gene produseer ‘n proteïen wat op die kankersel gevind word en veroorsaak dat die tumor groei.

Hierdie tipe kanker groei vinnig en aggressief. As die kanker terugkeer, gebeur dit vroeg – meestal binne die eerste vyf jaar ná diagnose, maar daarna gebeur dit selde. Die kanker kan dan in die bors wat behou of gerekonstrueer is, in letsels, die longe, lewer en bene voorkom.

In die geval van ‘n HER 2-diagnose behoort jy ’n roetine te volg wat bestaan uit:

  • ‘n Kliniese ondersoek elke vier maande vir die eerste vyf jaar. Daarna hoef jy jou dokter slegs een keer per jaar te sien.
  • ‘n Jaarlikse borskas-X-straal, abdominale sonar en beenskandering van die hele liggaam een keer per jaar vir die eerste vyf jaar.
  • ‘n Ginekologiese ondersoek een keer per jaar.

Luminal A-tipe

Luminal A-Tipe-borskanker is die algemeenste tipe en kom in ongeveer vier uit elke tien borskankergevalle voor. Dit is slegs afhanklik van estrogeen en is die minste aggressief van alle tipes borskanker. In teenstelling met die ander soorte borskanker kan dit egter ná ‘n lang tyd terugkeer – in sommige gevalle selfs dekades later en dan kom dit gewoonlik in die bene voor.

Met Luminal A-tipe borskanker behoort jou opvolgprogram uit die volgende te bestaan:

  • ‘n Kliniese ondersoek elke ses maande vir die eerste twee jaar. Daarna kan dit jaarliks gedoen word.
  • ‘n Jaarlikse mammogram en borssonar.
  • ‘n Volledige beenskandering vir die eerste vyf jaar.
  • ‘n Jaarlikse ginekologiese ondersoek.
  • Dit kan ook nodig wees dat jy in ‘n stadium vir ‘n beenmineraaldigtheidstoets gaan.

Luminal B-tipe

Ongeveer een uit elke vyf kankers is Luminal B-tipe Hierdie tipe kanker is afhanklik van estrogeen, maar is ook sensitief vir chemoterapie. As Luminal B-tipe kanker terugkeer, gebeur dit vroeg, gewoonlik binne die eerste vyf jaar. Dit neig om na die bene of die longvlies te versprei wanneer dit terugkeer.

Wanneer jy met Luminal B-tipe borskanker gediagnoseer is, behoort jy die volgende te doen:

  • Gaan vir die eerste vier maande van die eerste drie jaar vir ‘n kliniese ondersoek en daarna elke ses maande vir die volgende twee jaar. Ná vyf jaar hoef jy slegs een keer per jaar vir ‘n ondersoek te gaan.
  • Laat elke jaar ‘n mammogram en borssonar doen.
  • Gaan vir die eerste vyf jaar een keer per jaar vir ‘n volledige beenskandering.
  • Laat toets vir die tumor-merker (Ca15.3) een keer per jaar vir die eerste vyf jaar.
  • Gaan vir jou jaarlikse ginekologiese ondersoek.

Trippel-negatiewe-tipe

‘n Trippel-negatiewe-tipebeteken dat die drie algemeenste tipe reseptore wat daarvoor bekend is dat dit die groei van borskanker aanhelp (estrogeen, progesteroon en HER2) nie in die tumor aanwesig is nie. Ongeveer een uit elke vyf borskankers is trippel-negatief en hierdie kankers reageer gewoonlik goed op chemoterapie. Hoewel dit vinnig groei, keer dit selde terug as die kanker behoorlik behandel is. As daar ‘n terugkeer is, gebeur dit gewoonlik vroeg, binne drie jaar en meestal in die lewer en longe.

Met ‘n trippel-negatiewe-diagnose behoort jy die volgende te doen:

  • Gaan vir die eerste drie jaar elke vier maande vir ‘n kliniese ondersoek en dan elke ses maande vir die volgende twee jaar. Ná vyf jaar het jy net ‘n jaarlikse ondersoek nodig.
  • Gaan vir ‘n jaarlikse mammogram en borssonar.
  • Laat vir die eerste drie jaar elke jaar ‘n RT-skandering (CT scan) van die borskas en lewer doen.
  • Gaan vir jou jaarlikse ginekologiese ondersoek.

Vir alle tipes borskanker moet die volgende simptome so gou moontlik aan jou dokter genoem word:

  • ‘n Nuwe knop in die bors of borswand, binne die letsel of onder jou arm.
  • Enige nuwe veranderinge aan die vel of tepel, byvoorbeeld vel wat terugtrek, rooiheid of skilfering aan die tepel.
  • Nuwe, aanhoudende hoofpyne.
  • Nuwe of erger beenpyne wat vir twee weke of langer aanhou sonder enige onlangse besering.
  • ‘n Droë hoes sonder ‘n onlangse geskiedenis van ‘n borsinfeksie wat vir twee weke of langer aanhou.
  • Asemhalingsprobleme.
  • ‘n Afname in jou eetlus.
  • Gewigsverlies
  • Aanvalle.

Borskanker word deesdae as ‘n geneeslike siekte beskou, as dit vroeg opgespoor word en pasiënte die regte behandeling ontvang en vir daardie pasiënte by wie kanker terugkeer is vroeë opsporing net so belangrik. Moenie bang wees om vrae te vra en jou eie navorsing te doen nie en onthou dat kennis mag is.