KAAPSTAD. – Dit is nie óf jy borskanker gaan kry nie, maar wanneer.

Dít is die harde werklikheid wanneer ’n foutiewe BRCA1- of BRCA2-geen by jou gediagnoseer word, het prof. Justus Apffelstaedt van die Universiteit Stellenbosch en hoof van die borskliniek by die Tygerberg-hospitaal gister by navraag gesê.

“Daarby is die kanker wat jy van BRCA1 kry baie aggressief en moeilik om te behandel.”

Hy het gereageer nadat die Oscar-bekroonde aktrise Angelina Jolie (37) pas bekend gemaak het dat sy ’n voorkomende dubbele mastektomie gehad het.

Die Amerikaanse aktrise het positief getoets vir die foutiewe BRCA1-geen.

Jolie het onthul dat sy einde April ’n drie maande lange proses om albei borste te verwyder, voltooi het.

Sy het besluit om haar persoonlike ervaring met vroue te deel om hulle bewus te maak van voorkomende chirurgie.

Jolie se aktrise-ma, Marcheline Bertrand (56), het in 2007 aan kanker in die eierstokke gesterf.

Jolie het in ’n rubriek in die New York Times geskryf dat sy na aanleiding van ’n gesprek met haar kinders gesê het: “Ons praat baie van ‘Mammie se ma’. Ek probeer verduidelik dat die siekte haar van ons weggeneem het. Hulle het my al gevra of dieselfde met my sal gebeur.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar dit is een waaroor ek bly is dat ek dit geneem het. Nou kan ek aan my kinders sê hulle hoef nie bang te wees dat ek van borskanker sal doodgaan nie.”

Altesaam 458 000 mense sterf jaarliks aan borskanker, berig die Wêreldgesondheidsorganisasie. Na raming dra een uit 300 mense die BRCA1-geen en een uit 500 mense die BRCA2-geen.

Volgens Apffelstaedt voel vroue in verskillende lewensfases verskillend oor die besluit om so ’n operasie te ondergaan.

“Jonger vroue wat nog nie getroud is nie, dink nie juis daaraan dat hulle kan sterf (weens die siekte) nie,” het hy gesê. “Vroue wat pas getroud is en dié met ’n gesin, voel weer dat hulle ’n sekere verantwoordelikheid het en neem makliker die besluit.”

Renee Goedhals, ’n berader en voormalige adjunkpresident van Reach for Recovery, ’n organisasie wat vroue met borskanker ondersteun, het gesê vroue is deesdae meer geneë om voorkomend op te tree, omdat daar meer inligting beskikbaar is.

“Deesdae kan jy die rekonstruksie so goed beplan. As jy eers die kanker het, moet die bors so gou as moontlik verwyder word. Maar nou kan jy presies gaan kyk van watter dokter se werk jy hou. Dit word so goed gedoen, jy kan nie eens agterkom as iemand die operasie gehad het nie.

“Ek dink nie dit moet eens ’n keuse wees nie. As jy nie die operasie ondergaan nie, is dit amper so goed soos om Russiese roulette te speel.”

 

Link to article: http://www.dieburger.com/nuus/2013-05-15-angelina-jolie-wil-ervaring-deel