As die algemeenste kanker onder Suid-Afrikaanse vroue raak borskanker ongeveer 19,4 miljoen vroue van 15 jaar en ouer. Volgens Kansa is ’n intieme kennis van jou liggaam noodsaaklik vir die opspoor van abnormaliteite, en dit is belangrik om jou gereeld te laat toetse en heeljaar lank gereeld selfondersoeke te doen.

Prof. Justus Apffelstaedt, medeprofessor van chirurgie aan die Universiteit Stellenbosh en hoof van die borskliniek by die Tygerberg-hospitaal, sê: “Borskanker is die algemeenste kanker onder vroue wêreldwyd en ook in Suid-Afrika. Ongeveer een uit 10 vroue in landelike gebiede sal in hul leeftyd deur borskanker geraak word. Hoewel dit ’n verontrustende statistiek is, is borskanker ’n hoogs geneesbare siekte wanneer dit vroeg gediagnoseer word. Dit is belangrik dat vroue ’n streng regiment van toetsing en selfondersoeke volg.

“Vroue tussen 20 en 39 behoort hul familiegeskiedenis van borskanker te ken, ’n jaarlikse konsultasie met ’n professionele persoon met ’n spesiale belang by borsgesondheid (waaronder ’n borsondersoek) te skeduleer en behoort hul borste maandeliks self te ondersoek,” sê Apffelstaedt. “Vroue bo 40 behoort op die hoogte van die nuutste ontwikkeling in borskankerbehandeling en tegnologie te wees, behoort ’n jaarlikse mammogram en kliniese borsondersoek te ondergaan, en behoort maandeliks ’n selfondersoek te doen. Indien daar ’n probleem is, lewer behandeling en nabehandeling deur supergespesialiseerde dokters in ’n multidissiplinêre omgewing die beste resultate.”

Apffelstaedt vertel ons van twee seldsame vorms van borskanker waarvan ons bewus moet wees, naamlik inflammatoriese borskanker en Paget se tepelsiekte.

Wat is dit?

Inflammatoriese borskanker is ’n spesiale kliniese manifestering van ’n baie aggressiewe borskanker, terwyl Paget se siekte ’n spesiale kliniese manifestasie van ’n baie stadig groeiende, pynlose borskanker is.

Hoe dikwels kom dit voor?

“Slegs een tot twee persent van alle borskankers in ons borskliniek is inflammatoriese borskankers, met die gevolg dat dit dikwels misgekyk word,” sê Apffelstaedt. Wat Paget se siekte betref, sê Apffelstaedt dat minder as een persent van alle kankers in hul borskliniek as Paget se siekte manifesteer, en daarom ook dikwels misgekyk word.

Hoe herken ek dit?

By inflammatoriese kanker is daar ’n rooi deel op die borsvel wat nie deur enige ander ooglopende tekens van infeksie veroorsaak word nie. Dit kan ’n uitslag wees wat kom en gaan, maar is op die vel op die borsarea gefokus. By Paget se siekte verskyn daar ’n klein skilferigheid of tepel-erosie wat baie stadig groter word, maar sonder enige rooiheid en slegs op een tepel.

Hoe word die diagnose gemaak?

Inflammatoriese borskanker kan deur middel van ’n biopsie van die vel gediagnoseer word, wat sal toon dat die limfvate deur kanker binnegedring is. In hierdie geval is ’n mammogram en sonar gewoonlik nie voldoende nie.

Vir Paget se siekte moet ’n biopsie van die tepel gedoen word en indien dit ’n positiewe diagnose is, sal daar ’n vroeë kanker in die melkbuise waargeneem kan word. ’n Mammogram kan tekens van ’n vroeë-stadium-, nie-indringende kanker toon, maar is nie altyd van nut nie.

Hoe word dit behandel?

Vroue met inflammatoriese kanker moet onmiddellik met chemoterapie begin, want dit is eers nadat chemoterapie die tekens van inflammasie opgeklaar het dat chirurgie kan plaasvind. Ná chirurgie moet die pasiënt bestraling ontvang om die kans te verskraal dat die kanker terugkeer. Chirurgie bestaan uit ’n mastektomie, en rekonstruksie word nie aanbeveel nie.

Vir Paget se tepelsiekte is chirurgie die vernaamste vorm van behandeling. ’n Mastektomie met onmiddellike rekonstruksie of borsbehoudende terapie behoort goeie resultate te lewer.

* Dit is belangrik om jou dokter vir ’n geldige diagnose te besoek. Die doel van hierdie artikel is om in te lig en nie te selfdiagnoseer nie.

FOTO: iStock/Voyagerix