Dis reeds traumaties om met borskanker gediagnoseer te word, en dan lê die pad na rekonstruktiewe chirurgie ook nog voor. Amanda de Lange het met ’n kenner hieroor gepraat.
DIE behandeling van borskanker strek baie verder as om bloot die kanker te elimineer.
Die pasiënt se oorlewing is die belangrikste, maar die kosmetiese uitkoms kan nie geïgnoreer word nie.
Prof. Justus Apffelstaedt van die Universiteit van Stellenbosch (US) het ’n paar vrae hieroor beantwoord.
Wat is die opsies vir rekonstruktiewe chirurgie?
Daar is hoofsaaklik twee opsies: ’n prostetiese rekonstruksie of ’n rekonstruksie met die pasiënt se eie weefsel.
In ’n prostetiese rekonstruksie word ’n prostese van silikoon of een gevul met ’n soutoplossing in die wond geplaas. Met die ander opsie word weefsel van elders in die liggaam gebruik om ’n nuwe bors te skep.
Wanneer is die beste tyd vir rekonstruktiewe chirurgie?
Die ideaal is in dieselfde sessie as die mastektomie. As ’n mastektomie gedoen is en die rekonstruksie volg in ’n tweede operasie, moet twee probleme oorkom word: Die volume van die bors moet gerekonstrueer word en die vel daarom moet gerekonstrueer word.
Bestraling kan ook veroorsaak dat die weefsel hard en moeilik is om mee te werk. Komplikasies kan ’n goeie kosmetiese uitkoms belemmer.
Nuwe vel het ’n ander tekstuur en kleur as dié van ’n normale bors. En as nuwe vel (van elders op die liggaam) gebruik word, het dit hoegenaamd nie gevoel nie.
Dié probleme kan oorkom word as die mastektomie en die rekonstruksie in dieselfde operasie plaasvind.
In so ’n geval kan die dokter van die vel red of selfs die tepel en areola red – wat dit moontlik maak om die natuurlike voorkoms van die bors te behou, asook van die gevoel.
Nie alle soorte rekonstruktiewe chirurgie kan egter bestraling goed hanteer nie.
Wat is die korttermyn- en langtermyn-effek van so ’n operasie?
As chirurge verstaan ons dat onmiddellike rekonstruksie en ’n normale vroulike voorkoms ’n integrale deel is van die sielkundige rehabilitasie van die pasiënt.
Normaalweg is ’n prostetiese rekonstruksie tegnies maklik en die pasiënt hoef net sowat twee dae in die hospitaal te bly.
Dit kan egter op die duur by ’n betekenisvolle getal pasiënte komplikasies hê.
Volgens een Franse studie is net sowat 50% van pasiënte se prostese nog ná tien jaar in plek.
Daarenteen is ’n rekonstruksie met die pasiënt se eie weefsel meer ingewikkeld, sy moet langer in die hospitaal bly (vyf tot sewe dae) en daar is meer korttermynkomplikasies.
Maar as dié rekonstruksie die eerste 24 uur “oorleef”, is komplikasies daarna uitsonderlik.
Hoeveel operasies is nodig?
Oor die algemeen doen ons ’n eerste sessie waar ons volume bring na die gebied waar die mastektomie gedoen is.
Die kanker-terapie (chemoterapie of bestraling) word voltooi en eers daarna, in ’n tweede sessie, pas ons die grootte aan en doen ’n rekonstruksie van die tepel.
Hoe lank neem dit om te genees?
Met ’n prostetiese rekonstruksie kan ’n vrou ná sowat twee tot vier weke terugkeer werk toe.
Met ’n eie-weefsel-rekonstruksie neem dit gewoonlik langer, sowat vier tot ses weke.
Hoe gaan die nuwe bors lyk en voel?
As rekonstruksie maande of selfs jare ná die mastektomie gedoen word, gaan die nuwe bors uiteraard nie soos die oorspronklike eie bors lyk of voel nie.
Maar met nuwe gevorderde tegnieke in onmiddellike rekonstruksies kan die bors amper normaal lyk en minstens ’n mate van die normale gevoel behou – veral waar eie weefsel gebruik word en as van die vel of die tepel en areola in die mastektomie gered is.
Vroue met baie groot borste of borste wat hang, verkies om die bors wat nie geaffekteer is nie by die nuwe gerekonstrueerde bors te laat aanpas.
Hoeveel letsels sal daar wees?
As ’n prostetiese rekonstruksie gedoen word, word dieselfde snit as by die mastektomie gebruik.
As eie weefsel in die rekonstruksie gebruik word, sal daar uiteraard ook ’n letsel wees op die plek waar die weefsel verwyder is.
Die algemeenste eie-weefsel-rekonstruksie in ons praktyk is ’n DIEP (deep inferior epigastric perforators)-rekonstruksie.
Slegs vetweefsel uit die laer buik word geneem in ’n operasie soortgelyk aan ’n maagverkleiningsoperasie.
Dit skep aan die een kant ’n plat magie (baie vroue hou daarvan!), maar terselfdertyd ’n redelik lang letsel op die bikinilyn.
Ander gewilde eie-weefsel-rekonstruksies benut spiere en vel van die rug.
Dié letsel word versteek in die area waar die bra se dwarsband-jie sit.
Gaan die pasiënt ’n tepel hê? Indien wel, hoe gaan dit lyk en voel?
Die tepel is verreweg die sensitiefste deel van die bors. Daarom probeer ons dit so ver moontlik behou.
As dit eers verwyder is, is dit onmoontlik om dit te herstel dat dit normaal lyk. Enige rekonstruksie daarvan sal dit sonder gevoel laat.
Minder as 60% van vroue kom terug vir ’n tepel-rekonstruksie as dit nie in die oorspronklike operasie behou is nie.
Dit is ’n wêreldwye neiging en wys dat dit vir baie vroue die belangrikste is om ’n normale vroulike voorkoms te hê ná rekonstruksie.
Dit blyk dat die besonderhede – soos ’n tepel – minder belangrik is.
Sal die pasiënt steeds gevoel in haar borste hê soos voor die operasies?
Dit hang af van die soort mastektomie en rekonstruksie.
As die vel, tepel en areola tydens die mastektomie gered is en onmiddellike eie-weefsel-rekonstruksie gedoen word, is die gevoel in die bors die naaste aan die natuurlike gevoel.
Eie-weefsel-rekonstruksies in ’n tweede sessie ná die mastektomie laat die bors sonder gevoel.